More
on the book
Extract from Volksblad
Etienne Van Heerden se nuwe roman nét fiksie
27 August 2007
Gerrit Brand
“FIKSIE.”
Dít was die skrywer Etienne van Heerden se reaksie, per SMS uit Nederland, op ’n navraag oor die regsmening wat sy uitgewer glo ingewin het omdat ’n karakter in sy nuwe roman, Asbesmiddag, wat later vanjaar by Tafelberg-Uitgewers verskyn, ooreenkomste met ’n befaamde Afrikaanse sakeman toon.
Daarmee het Van Heerden bloot beklemtoon dat die roman fiksie is.
Kerneels Breytenbach, publikasiebestuurder van NB-Uitgewers, waarvan Tafelberg ’n afdeling is, het bevestig ’n regsmening is op versoek van die skrywer ingewin “oor die moontlikheid dat ’n leser (van die roman) sekere van die karakters sou kan verwar met bekende Kaapse figure en dat hulle en hul familie se regte moontlik op dié wyse geskend kon word”.
“Die aard van die advies wat ons ontvang het, het ons laat besluit om voort te gaan met publikasie.”
Breytenbach het bygevoeg dat dit nie ongewoon vir ’n uitgewer is nie om ’n regsmening te vra, maar dat NB-Uitgewers nog nooit ’n publikasie teruggehou het weens moontlike ooreenkomste tussen karakters en werklike persone nie.
Die Burger het elders betroubaar verneem “die hoofkarakter in Van Heerden se nuwe roman is soos Van Heerden self ’n skrywer van Stellenbosch wat klasgee in kreatiewe skryfwerk by die Universiteit van Kaapstad”.
“Dit sal seker ook moontlik wees om ’n karakter in die roman wat ’n Stellenbosse magnaat is, met ’n werklike magnaat van Stellen-bosch te verwar, om die Stellenbosch van die roman met die werklike Stellenbosch te verwar, of om die Universiteit van Kaapstad van die roman met die werklike Universiteit van Kaapstad te verwar.
“Dit sou egter ewe sinloos en verbeeldingloos wees.
“Van Heerden se roman gaan nie oor ’n spesifieke magnaat, ’n spesifieke dorp, ’n spesifieke universiteit en ’n spesifieke skrywer nie.
“Dit het wel baie te sê oor skrywerskap, oor Afrikaner-kapitalisme, dorpe, stede, plase en die universiteitswese as sodanig.”
Etienne Bloemhof van Tafelberg-Uitgewers het beklemtoon dat Van Heerden se roman “ ’n teks in wording is”, aangesien die skrywer steeds daaraan werk.
Johan Theron van die prokureursfirma Jan S. de Villiers, waarvan NB-Uitgewers ’n kliënt is, wou nie kommentaar oor die spesifieke aangeleentheid lewer nie.
Oor die regskwessies wat in dergelike gevalle ter sprake is, het Theron gesê dit draai om die onderskeid tussen lewende en nie-lewende persone: “Jy kan nie ’n dooie mens belaster nie.”
Die privaatheid van ’n nie-lewende persoon kan volgens Theron regtens ook nie geskend word nie.
Wat die familie van ’n gestorwene betref, het Theron gesê: “Ons reg erken nie die skending van ’n persoon se piëteitsgevoel – wat wel in Kanada en Australië erken word – nie, al is daar sommige akademici wat meen ons reg moet in dié verband uitgebrei word.
“Persoonlik voorsien ek nie dat ons howe dit sal doen nie.”
Die literêre historikus J.C. Kannemeyer het by navraag gesê selfs ooglopende ooreenkomste tussen fiktiewe karakters en werklike persone het al in die Afrikaanse letterkunde voorgekom.
“Die karakters in W.A. de Klerk se Die Uur van Verlange is bykans almal gemodelleer op spesifieke mense in die Sederbergse kontrei – Hans Büttner het in sý eksemplaar ’n lysie gehad van die fiktiewe karakters en die korresponderende werklike mense, ek kon in my Leipoldt-biografie dr. Nortier en Leipoldt maklik identifiseer.
“Die Agterstevoortrekkers van Reenen J. van Reenen dryf die spot met ’n aantal Bloemfonteinse akademici, Karel Schoeman het daaroor met my gekorrespondeer na aanleiding van inligting wat hy van pres. C.R. Swart ontvang het.”
Kannemeyer het ook vertel dat daar op ’n keer sprake was dat daar ooreenkomste tussen hom en ’n karakter in een van Schoeman se romans is.
“Ek het toe aan Karel geskryf dat ek te alle tye bewus is van die vervlugtigende roem van literatore en die verbygaande aard van hul geskrifte. Min literatore kry dit reg om deur ’n romanskrywer verewig te word, wat my betref, kan die publikasie dus gerus voortgaan, selfs al word ek negatief geskets.”
|