home page
News
Biography
Novels
Other Novels
Interviews
Interviews
Photo Gallery
UCT
LitNet
LitNet Akademies
Contact

— interviews —

Gerrit Brand gesels met Etienne van Heerden oor sy sesde roman, In Stede van die Liefde,
uitgegee deur Tafelberg (Oktober 2005)

Gerrit Brand


Etienne van Heerden

In Stede van die Liefde is miskien jou mees opvallend persoonlike roman, met talle outobiografiese resonansies, maar dan gefiksionaliseer. Kan jy jou nog vind in die onderskeid tussen (outo)biografie en fiksie, skrywer en verteller?

Die roman gaan oor ’n deurwag by die Lord Milner-hotel, Matjiesfontein; oor duiwederbys in die Karoo; oor die bedreigde oewerkonyn; Nigeriese kokaïensmokkelaars; Berlyn; seks in Finland; oor die geheue as bom; wedvlugduiwe; Rudyard Kipling; die ontsmette Stellenbosse lewe; ’n internet-entrepeneur wat trip; bendebedrywighede; Sigmund Freud; liefde; ’n Nazi-leerlingoffisier; Cecil John Rhodes; ontmoetings in die duine; Robert Mugabe; hartomleidings…ensomeer.

Die skrywer is fantas; ’n fabuleerder. Ek is buitendien te jonk vir ’n outobiografie. En die dronk matroos is nie die een wat die matrooslied skryf nie - só lui ’n ou gesegde. Ek lees onlangs: “Non-fiction is what happened; fiction is what is happening.” Natuurlik het enige roman raakpunte met die skrywer se lewe en met sy navorsing vir daardie boek. Maar dan begin die “happening” – karakters stap asof van nêrens die storie binne en kry ’n lewe van hul eie; die verhaal loop soos water afdraand én opdraand; jy kan dit nie keer nie. Op die ou end ontstaan ’n storie, ’n nuwe werklikheid, wat in eie reg “waar” is, maar ver verby outobiografiese knooppunte gespekskiet is.

Terselfdertyd besef ek dat jy nog dink dat jy jou boeke skryf, dan skryf hulle jóú.

Ek wil byvoeg: selfs ’n roman wat bitter min raakpunte met ’n skrywer se lewe het, kan intens persoonlik wees. Om te skep, beteken dat jy psigies met jou karakters beweeg, jy word hulle, jy is elkeen van hulle. Jy moet saam met hulle die drif deur. In daardie sin is hul outobiografieë ook joue. ’n Verslag van vele ongeleefde lewes.

Die stad, wat in jou ander romans meer op die rand figureer, word ’n sentrale gegewe in die roman. Hoe skryf die stad in vergelyking met die platteland, wat ewe prominent in die roman is?

Met my pa se dood in 1969 en die verlies van ons boerdery ná iets soos nege geslagte het ek ook die Karoo verloor. Ons het na Stellenbosch verhuis toe ek veertien was. Dit het die Karoo verseël tot geslote, mitologiese wêreld. Ek keer telkens daarheen terug in my skryfwerk. Die Karoo skryf dus uit die doofpot uit; uit ’n persoonlike mitologie.

Hoe laat jy ’n karakter leef in so ’n wêreld? Jy put uit wat in jou bloed gevange is: die vesel, die humor, die aardsheid van die Karoomense; jy hou die duiweresies op Matjiesfontein dop en jy stap uit op die vlakte en besef hoe tydloos dit als is.

Maar ek het ook die afgelope dekade baie gereis en my op my tuisste in stede begin voel. ’n Groot stad met sy gedruis en sy gevroetel en reuke sluit om my met ’n koestering wat ek nie meer in die oopte van die platteland vind nie.

Die stad skryf dringender; meer onmiddellik. Stede wat in hierdie roman voorkom – soos New York, Berlyn, Wene, ensomeer – is plekke met sterk, meesleurende persoonlikhede; onstuitbare energieë wat van jou besit neem.

Hoe stuur jy ’n karakter deur so ’n stad? Jy laat hom los in ’n wêreld van verglyding, onvoorspelbaarheid, psigiese geweld. Jy laat die bom van die geheue suutjies ontplof. Jy saag deur die borsbeen.

Hoekom is dit dat streeks- en landsgrense te beperk vir die verhaallyn geword het - sowel in jou roman as in die werk van ander hedendaagse skrywers? Het dit iets met die postkoloniale ervaring te doen?

’n Baie groot deel van die wêreldbevolking is expats; mense migreer soos nog nooit tevore nie. En reis is ’n permanente kondisie. Mense het internasionaal familie en netwerke van vriendskaplike of professionele aard. Met Skype kan jy kosteloos aanlyn gesels. Of jy sms gou of blits ’n mail af. Londen is nie veel verder as Bloemfontein nie – as jy in tyd reken. Hierdie getye van mense oor landsgrense heen lei tot van die beste internasionale skryfwerk van die afgelope dekades. “The empire writes back,” het Salman Rushdie gesê. Dit lei tot interessantste gesprekke oor plek en verplasing. Oor transaksies tussen die eie en die globale. Oor identiteit.

Die roman verken temas waarmee jy jou as akademikus ook besig hou, soos die webteorie. Die skryf van die roman het self intensiewe navorsing geverg. Hoe sien jy die verband tussen "akademiese" en "kreatiewe navorsing", soos jy dit in die notas agterin die boek noem?

Die stapel lêers wat tot Stede gelei het, beslaan 27 bokslêers - daardie dikkes. Dit was baie meer werk as my PhD oor postmodernisme en betrokkenheid; dit was ’n hellevaart. Nie net verstandsgewys nie, maar ook psigies. Ek moes nalees oor die internasionale kunshandel en reis dat dit klap. Ek moes gesprekke voer oor dwelms; oplees oor die debat oor die versweë geheue (een van die mees fassinerende debatte in die geesteswetenskappe in die vorige eeu); ek moes navorsing doen oor die oewerkonyn en spioenduiwe in die Tweede Wêreldoorlog. En wat nog.

My akademiese en skeppende navorsing voeg naatloos. Ek doen byvoorbeeld navorsing en gee klas oor internet- en webteorie en dit het ook op natuurlike wyse by die teks ingesyfer. Opleeswerk vir die roman het weer my lesings gevoed. Ook LitNet voed wedersyds.

My ander opdrag aan die Universiteit Kaapstad is leiding aan studente in Skeppende Skryfwerk. En afgesien van saamskryf met individuele studente wanneer hulle ’n manuskrip skep, ook (vir magisterstudente in Skeppende Skryfwerk) meestersklasse in Engelstalige fiksie of fiksie vertaal in Engels. Dit maak my kop oop vir die jongste ontwikkelinge in die roman en neem my verder as net die Afrikaanse of Nederlandse literêre wêreld.

Ek is in die gelukkige posisie dat ek nie my skryfwerk as ’n intellektuele aktiwiteit los van my akademiese arbeid sien nie. En die UK begin gelukkig al meer om kreatiewe navorsing op ’n gelyke voet as akademiese navorsing te eien.

Dus: navorsing op die gewone manier, als vers en kapittel bymekaarkry; ek gebruik nou ook al meer navorsingsgenote om my te help om inligting te versamel. Dan alle bevindinge mooi liasseer. Kyk wat jy kan bylieg en bid vir ’n ligte hand waar nodig en ’n groot ongenade as jy jou eie hebbelikhede moet weer.

Hopelik is die spronge van die verbeelding wat dan volg groter as die beperkthede van ibid en op cit.

Wat wel waar is, is dat dit psigies geweldig inspannend is om te pendel tussen romanwêreld en werklike wereld, veral as laasgenoemde insluit die toenemende burokratisering van die lewe. Die republiek van dink word al kleiner. Ons moet bly baklei!

Jou regsagtergrond klink sterk deur, veral in die karakter sersant Fielies Jollies, met sy besinnings oor dolus en culpa. Terselfdertyd is hy, met die neerpen van sy verslae, ’n skrywersfiguur. Is daar ’n verwantskap tussen die rolle van regspraktisyn en romansier?

Fielies is een van talle karakters in Stede wat teruggryp na karakters in my vorige romans en met hulle in gesprek tree. In daardie sin skryf ek bewustelik ook aan ’n oeuvre en nie noodwendig net ’n nuwe boek nie.

In Fielies se geval voer hy die soektog na skuld en die besinnings oor aandadigheid van Abraham van der Ligt in Toorberg verder. Want ja, die versigtige afweeg van bewyse en artefakte en die skep van ’n verhaallyn van die geregsdienaar word gelykgestel aan dié van die snuffelende skrywer, wat in sy navorsing orals nuuskierig moet uitvra, na skriftelike en mondelinge getuienis moet kyk en ’n ketting van oorsaaklikheid skep, ’n narratief, ’n storie of “saak” wat sin maak. Jou navorsing neem jou op allerlei spore. Nou nie heeltemal immersion journalism nie, maar jy moet op die rug van die tier kan ry en jou hand tussen sy tande, daar by die warm asem en skurwe tong, kan indruk.

Al is dit ’n Bengaalse tier.

Mens en dier, simbool en werklikheid, die ek en die ander, vervloei en staan in vir mekaar in die roman. Plaasvervanging en verglyding is deurlopende temas. Daar is ook ’n nostalgiese aspek, hoewel ironies. Is In Stede van die Liefde ’n speurtog na identiteit? "Verliesliteratuur"? Albei?

Die etikette moet slim lesers maar opplak. Ek hoop net dat daar tesame met die draai van die mes ook deernis en teerheid in hierdie roman is.

Ek dink dikwels aan die mooi woorde van Flaubert: “Language is like a cracked kettle on which we beat out tunes for bears to dance to, while all the time we long to move the stars to pity.”

En die ou gesegde: “If you don’t take out that which is within you, that which is within you will kill you. But if you take out that which is within you, that which is within you will save you.”

En die liefde?

Die grootste hiervan is die liefde.

(Extract from Die Burger)

— Interviews —

2010 Etienne van Heerden | Contact: etienne@etiennevanheerden.co.za