home page
News
Biography
Novels
Other Novels
Interviews
Interviews
Photo Gallery
UCT
LitNet
LitNet Akademies
Contact

— interviews —

Uit die hiernamaals van die Karoo:
Theo Kemp in gesprek met Etienne van Heerden vir die De Kat-tydskrif

Theo Kemp


Etienne van Heerden

Om ’n afspraak met Etienne van Heerden gereël te kry is omtrent so moeilik soos om ’n artikel oor dié veelbekroonde skrywer te doen wat nie verval in ’n totale heldevereringstuk oor sy werk nie. Want kyk, as skoolseun het ek sy eerste roman, Toorberg, op ’n plattelandse Oos-Kaapse dorpie ontdek en verslind. Dié roman het vir my wêrelde in die Afrikaanse letterkunde oopgemaak wat ek nie toe geweet het bestaan nie.

Om ’n onderhoud met Etienne gereël te kry is nie moeilik omdat hy uit beginsel moeilik is nie, maar bloot omdat hierdie man soveel hooi op sy vurk het. Hy is professor in die Skool vir Tale en Letterkundes aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy ook ’n kreatiewe skryfkursus aanbied; hy is die stigtersdirekteur en -redakteur van die webwerf LitNet, wat by die dag uitbrei; én hy is boonop ’n skrywer wat al meer as twintig titels op die rak het en wat pas sy sesde roman, In stede van die liefde, vrygestel het.

Ek ontmoet hom by die bekende Wijnhuis-restaurant in Stellenbosch en was so gelukkig om ’n kopie van In stede van die liefde - vars van die drukkers - in die hande te kry letterlik ’n halfuur voor die ontmoeting. Met ’n vinnige indruk oor die stofomslag en ’n redelik dik roman in my hande, het ek nie veel meer as vrae nie.

In stede van die liefde is my tweede hotelroman en speel af in Matjiesfontein, met die plattelandse teenoor die stedelike ruimte as die basis daarvan. Ek skryf nooit net ’n boek nie, maar werk ook aan ’n oeuvre. Dié roman knoop gesprekke aan met my vorige romans,” brei Etienne uit oor die vraag waaroor sy nuutse werk handel. Dit is veral ook die Karoo-aspek (Etienne het in die Karoo grootgeword), en die mitologie hiervan, wat aansluit by sy vorige romans.

“As mense my vra waaroor ek skryf, sê ek dit gaan oor die lewe, en dan vra hulle hoe lank het ek geskryf aan ’n boek en dan is die antwoord: ‘My lewe lank.’ Hier is dit” – en hy wys na die (intussen getekende) kopie tussen ons – “dit is dit tot op hierdie stadium van my lewe.”

Tog het elke boek vir hom ’n begin – ’n aanvanklike insident of inval wat die skrywersbrein prikkel. “Dadelik besef jy dit is die punt van ’n ysberg en jy moet dit neerskryf, want al weet jy nog nie waar dit inpas nie, wil jou kop vir jou iets daarmee sê.” Dié raad deel Etienne ook met sy kreatieweskryfwerk-studente.

“Na hierdie eerste indruk kry jy ’n tweede gewaarwording wat dikwels die dinge bymekaar uitbring en op die ou end is dit die maklikste om dit met ’n klont kristalle te vergelyk wat al hoe groter groei.”

Met In Stede van die liefde was ’n deurslaggewende gebeurtenis die naweek toe Etienne en sy doktersvrou, Kaia, toevallig in die Lord Milner-hotel op Matjiesfontein oorgebly het terwyl daar ’n duiwe-wedvlug aan die gang was. Een van die deelnemers het uitgevind dat Kaia ’n dokter is en het haar genader om “spesiale pilletjies” vir die duiwe aan te bied. Die volgende dag is daar nóg ’n duiwebaas met dieselfde versoek, en net daar “is die roman met sy Karoo-gegewens oopgeskiet”.

Nog só ’n sterk gebeurtenis is toe Etienne op ’n ander besoek aan die hotel ’n man van die Metaalverklikkersvereniging raakloop, en net daar het die karakter Miss Edelweiss lyf gekry. “Dit is dan asof karakters waaraan jy werk, skielik ruggraat kry.”

Oor die aanvanklike gewaarwording – daai punt van die roman se ysberg – vertel Etienne my nie, omdat dit, ironies genoeg, nooit ingeskryf is in die finale kopie nie. “Eenkeer het ek op ’n televisieprogram gepraat oor een van die karakters van Casspirs en Campari’s wat ek later eers besef het uit die teks gesny is,” lag hy.

Na tien jaar se werk en tonne navorsing is ’n verhaal nou uiteindelik in boekvorm waaroor Etienne kan sê dat dit in breë trekke gaan oor die geheue as tydbom en hoe mense terugkyk op die verlede. Dit is meer as net die Suid-Afrikaanse verlede; dit word ’n universele psigologiese kyk op en problematisering van die geskiedenis – hoe ’n mens onthou. ’n Tema waarvan hy glo dat dit “die groot verhaal is” waarmee hy besig is.

In tien jaar het Etienne ook baie oorsee gereis en kon dit nie anders as om stede met sterk persoonlikhede in In stede van die liefde te ontgin nie. Hierdie ontginning tree dan weer in gesprek met van sy vorige werke, soos die roman Casspirs en Camparis en novelle Om te awol.

Hoe besluit ’n mens dat ’n storie na so ’n lang tydperk klaar is?

“’n Roman is nooit klaar nie,” antwoord Etienne. “Dit is ’n hardnekkige en moeilike besluit, maar iewers moet jy die sluise laat sak en die proses klaarmaak.” Omdat romanskryf soveel keuses het en ’n seleksie bly van moontlike karakters en storielyne, bemoeilik dit hierdie besluit.

Nog moeiliker is om totsiens te sê aan die karakters wat so ’n lang pad met hom gestap het. “My karakters bly by my en ek moet weerstand bied dat hulle nie weer in ander romans opduik nie. Iemand soos tant Geert uit Kikoejoe het sonder enige twyfel ’n familielid geword."

Die weer is vreemd buite: dit is iewers tussen dreigende reën met ’n ewe dringende somer wat wil-wil deurdring. Byna magies en onvoorspelbaar, soos ’n mens Etienne van Heerden se romans kan opsom.

“Karakters meld hulle soms volledig by my aan. Ek het dan nie probleme met karakterisering nie. Ek ken hulle soos werklike mense; ek moet hulle nog net voorstel aan die lesers.”

Dit is nie altyd duidelik waar die karakters in die verhaal inpas nie, maar hy moet eenvoudig net werk maak daarvan nadat ’n karakter kom aanklop het, verduidelik Etienne. Hierdie karakters is so duidelik teenwoordig dat Etienne spottenderwys vertel oor hoe hy dink dit eendag vir hom onmoontlik sal wees om te onderskei tussen regte mense en sy romankarakters.

“Ek is nie ’n gedissiplineerde skrywer in dié sin dat ek tyd kry om elke dag vir twee ure skryf nie, maar ’n patalogiese skrywer wat nie ’n ander keuse het as om die storie uit te skryf nie,” sê Etienne oor die verbetenheid van sy skryfproses. In die tyd wanneer hy aan ’n boek werk, is daar nie plek vir ’n ander storie nie – “dit is soos ’n rekenaar waarvan die hardeskyf vol is.” En die storielyn kan hy nooit voorspel nie, aangesien dit verander soos karakters saam op die storiewa klim en sekere insidente vir ’n draai in die verhaal sorg. “Dié boek het sewe jaar terug heeltemal anders gelyk as vandag.”

Etienne het sy hand al aan verskillende genres gewaag – van poësie, die essay en kortverhale tot die kabaret. Hy wil nie té gereeld teater toe gaan nie, omdat die drama vir hom so aanlolik is en hy eerder by die romangenre wil bly. “Sê nou ek word ’n dramturg en is nie ’n goeie een nie?” skerts hy. Etienne bly eerder by die huis waar hy die een roman na die ander lees, omdat dit fassinerend is om te kyk wat ander skrywers met die roman doen.

Om romans te skryf is vir hom die uitdagendste van al die genres, omdat elke roman ’n herontdekking is van dié skryfvorm. “Daar is geen resep nie, want elke roman het sy eie proses. Ek hou ook van die breë doek. Maar dit hang af van die skrywer se persoonlikheid. 'n Mens kan jou tog nie voorstel dat iemand soos Hennie Aucamp romans moet skryf nie. Hy is uit en uit ’n 100-meter-atleet.”

Met elke roman moet daar vir hom ’n sprong tot ’n ander ruimte wees. Om te sê hoe sy vorige roman, Die swye van Mario Salviati, wat vyf jaar gelede gepubliseer is, ’n heel ander tree as In stede van die liefde gee, is moelik. “Mario Salviati was ’n baie meer gekoesterde roman as In stede van die liefde. Hierdie een is rouer en harder. Die mes word gedraai.”

Dat Etienne só kan praat oor die verskille tussen sy boeke laat my wonder of hy ’n gunsteling het. "Of is dit net so ’n onregverdige vraag as om vir ouers te vra van watter van hulle kinders hulle die meeste hou?"

Kikoejoe lê my die naaste aan die hart. Dit was my persoonlikste boek, maar in ’n sin was dit die minste outobiografies. Toorberg is deur die kanon van my weggeneem,” antwoord Etienne, “maar dit is moeilik om oor my boeke te praat. Ek lees dit nooit weer nie, want as ek sou, sal ek alles wil oorskryf!”

Sy romans is bykans almal vertaal in onder andere Nederlands, Sweeds, Grieks en Hebreeus. "Dit moet sekerlik die vreemdste gevoel wees om jou eie boek in die pos te kry en jy kan nie kop of stert daarvan uitmaak nie?"

“Ja, dit is ’n interessante ervaring,” erken Etienne. “Ek het so pas die Griekse vertaling van Mario Salviati ontvang. Maar ’n mens is ook bang, want jy sal nooit weet wat die vertalers werklik met jou boek gemaak het nie.” Hy lag: “Soos ’n skrywervriend van my eendag gesê het, hy weet nie wat gaan aan nie, maar sy boeke is veel dunner as hulle vertaal word!”

Een van die interessantste aspekte daarvan om internasionaal te publiseer is volgens Etienne dat jou siening van resensering heeltemal verander. “Dit is soos om in ’n plaaslike span rugby te speel wat skielik oorsee gaan meeding! Die spel van resepsie word heeltemal anders. Daar word ’n afstand geskep en jou boek word in elke land ’n heel ander boek en mense lees gewoon anders en verskillend.”

Dit beskryf hy as ’n versoberende ervaring, want die boekewêreld daar buite is massief en “jy kan nie anders as om bewus te raak van die relatiwiteit van die boek en die reaksie daarop nie.”

Dit bly egter steeds baie interessant om te sien wat die verskillende leeskulture maak van sy werk. Met In stede van die liefde is die uitdaging nou om ’n geskikte uitdrukking te kry vir die dubbelsinnige in stede van wat lei tot sowel die interpetasie "liefde in stede" as die interpretasie "in plaas van die liefde". Dit is belangrik dat laasgenoemde betekenis nie verlore gaan nie, aangesien plaasvervangerskap ’n groot rol in die roman speel.

Buiten dat hy onlangs deel gehad het aan ’n skrywersbrief wat hy, André P Brink en Tom Dreyer (drie generasies romansiers) geskryf het oor die behoud van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch, sien ’n mens nie Etienne van Heerden se naam gereeld gekoppel aan taaldebatte en oor-en-weer politiekery rondom Die Taal nie. “Ek is nie deel van enige juigkommando nie. Ek glo aan projekte en verkies om op ’n positiewe en verbeeldingryke manier by te dra, eerder as om op en af te spring.”

LitNet is maar een van hierdie projekte waarmee Etienne aktief bydra tot ’n lewendige diskussie oor veel meer as net Afrikaans. Dit is ’n webwerf waarop daar konstant menings gelug word oor uiteenlopende aktualiteite. Verder is dit ’n groot taak om jong skrywers te lei in hulle kreatiewe ontwikkeling. Dit verg baie meer inspanning as om net "gewone" klasse aan te bied, want elke aspirantskrywer moet tot die besef kom van hoe sy of haar eie skryfproses werk.

Om die hele tyd met soveel projekte besig te wees moet sekerlik sy eie kreatiwiteit iewers blokkeer? wonder ek.

“Ek kry nie skrywersblokke nie, en as dit voel of ’n verhaallyn vassteek, dan ontwikkel ek ’n ander een. Dit is net nie altyd maklik om die tyd te kry nie. Jy is ook nooit klaar met ’n boek as jy hom gepubliseer het en hy vertaal word nie. Daar is geweldig baie werk wat daarop volg.”

Simbolies, in die middel van die historiese Stellenbosch, het Etienne ’n oop stuk erf agter sy huis. Dit is sy “klein stukkie Karoo” wat hy Hiernamaals noem, en waarna sy vriende as “die bokveld” verwys. Dit is hier waar hy doodstil word en sit en werk aan sy romans. ’n Kreatiewe ruimte de luxe, want daar is reeds ’n idee vir ’n nuwe boek sterk aan die ontwikkel.

Hy wonder vir ’n oomblik of hy my sal vertel waaroor dié roman sal gaan. Maar nee, ek kry dit nie reg om meer uit te vis nie. “Sê nou ek skryf dit nooit en dan hang hierdie idees iewers in die lug rond?”

Ai, as Hiernamaals maar net kon praat, dink ek nadat Etienne haastig by die restaurant uit is om iewers ’n toespraak te gaan hou. Ek moet self huis kry - daar wag ’n roman om gelees te word.

— Interviews —

2010 Etienne van Heerden | Contact: etienne@etiennevanheerden.co.za