home page
News
Biography
Novels
Other Novels
Interviews
Interviews
Photo Gallery
UCT
LitNet
LitNet Akademies
Contact

— interviews —

Linette Retief gesels met Etienne van Heerden, vir Rapport-Tydskrif, 5 Januarie 2006

Linette Retief


Etienne van Heerden

I ALGEMEEN

1. Watter een van jou boeke het jy die meeste geniet om te skryf?

Ek is jaloers op skrywers wat van “geniet” praat wanneer hulle na hul skryfwerk verwys. Ek vermoed hulle skiet spek. Vir my is dit nogal soos fietsry deur dik woestynsand, oor die duine. Die Namib. Storielyne en karakters kom maklik. Maar dis net die begin…dan begin die ontbering! Ek moet sweet om ’n storie te maak wat as storie meesleur, soos ek met In stede van die liefde probeer doen het. Iets wat jou heeltemal insuig, soos ’n fliek.

2. Het jy ’n spesifieke skryfritueel/e?

Ek fluister vir myself: “Niks moet. Alles kan.” Dan is dit soos die liefde. Jy moet maar net begin …

3. Op jou webwerf word melding gemaak van jou “glorious years” in reklame. Wat het dit vir jou so glorious gemaak?

Dis erg ironies geformuleer daar. Dit was die jare tagtig, toe die reklamebedryf hoog opgegee en in die hoogste versnelling voortgestoom het. Ek was in my laat jare twintig.

4. Jy is baie betrokke by die www (LitNet en New Media Studies); wat is die aantrekkingskrag?

Innovasie.

5. Het jy ooit as kind in die Karoo met oorspronklike Italiaanse krygsgevangenes te doen gekry? Indien ja, wat was jou ervaring van hulle?

My pa het my ’n gevlegte leergordel geskenk wat ’n Italiaansekrygsgevangene wat op ons plaas Doornbosch gewerk het, vir hom gevleg het. Ek het dit nog. Die komplekse vlegwerk het die struktuur van Die swye van Mario Salviati bepaal: die vyf liefdesverhale ineengevleg.

6. Waar kry jy tyd vir alles; om te skryf, om LitNet te bestuur en die hele litanie goed te doen waaroor ons kortliks gesels het by die Boekehuis?

 Ek sny my tyd fyn, dis al. In die Karoo word ons twintig voor ses wakker en staan maklik op. Ek het so grootgeword.

 

II OOR IN STEDE VAN DIE LIEFDE

1. Op watter ouderdom het jy besef die Karoo is ’n magiese plek; that there’s so much more to it than meets the eye?

Een middag, toe ek so twaalf jaar oud was, het ek op ’n hoogtetjie gestaan op ons plaas en ’n epifanie gehad. Die ruimte om my het oopgeskiet asof daar opeens ’n vierde dimensie was. My gees het ontplof die wydtes in. Wat was dit? Dalk ’n aanval van hipoglisemie. Dalk ’n vroeë griepvirus. Of dalk ’n besondere oomblik. ’n Bekering, maar waartoe weet ek net nie. Ek dink tot ’n soort sinvolheid., dalk. Ek moet miskien terugry Karoo toe ek weer daar gaan staan, op die presiese plek, ook so in die laatmiddag. En luister.

2. Wanneer het jy die tekstuur van die Kleurlinge in die Karoo begin verstaan; watter soort mense hulle is? Het jy ’n droom/visie vir hierdie spesifieke groep/e Afrikaanses?

Ek haat die woord Kleurlinge. Ek stem saam met Jakes Gerwel dat dit op ’n soort teelgeskiedenis dui.

3. Hoe kom jy op met jou storielyne, en hoe slaag jy daarin om daardie ongelooflike gevoel van pathos oor te dra? (Ek dink spesifiek aan die toneel waar Eaglejohn vir Snaartjie sê “Jy verstaan van hierdie dinge” waar jy binne twee sinne dit reggekry het om trane in my oë te bring.)

Storielyne droom ek wawydoog op. Die hele lewe is ’n vervlegting van storielyne. ’n Tapisserie van die mees onwaarskynlikste gebeure. Dis ter hand. Elke mens se gemoedslewe is ’n opspraakwekkende drama.

4. Met verwysing na die aand wat Christian saam met Salisbury, die kunstenaar, die strate ingevaar en uiteindelik besef het die ou is nie regtig sy vriend nie ... Dink jy die kloof in ons land is te groot dat ons ou reënboognasie binne hierdie generasie kan huisvriende word?

Daar is wel baie integrasie; dit hang seker af van waar jy woon, werk en speel. Ons moet kyk of die kinders nog beter doen.

5. Waar vang die inspirasie jou om woorde soos “kweel”uit Bosman van der Merwe en Hiemstra op te diep? Ek het eintlik gedink dis ’n nuutskepping, toe’t ek net gaan double-check!

Ek dag “kweel” is taamlik algemeen. ’n Mooi woord bly in my verstand sit soos ’n biltongsening tussen die tande.

6. Wat het In stede van die liefde gedoen vir toerisme in Matjiesfontein?! Celia van der Merwe, wat die koffiehuis daar bestuur, mail my anderdag dat mense in stringe daar verbykom met die boek in die hand. Hulle kyk oral rond en vra die hotelpersoneel uit oor dese en gene.

Lekker vir die Lord Milner.

8. Met betrekking tot die Christian Lemmer karakter: Dink jy die donker kant is ’n leitmotif van witmense in die land wat die afgelope paar dekades met verbysterende magskuiwings te kampe gehad het?

Arme ou Christian het grootgeword in ’n tyd van onderdrukking en verswyging, selfs dissosiasie.

 

III ADDISIONELE VRAE

En dan, vir ekstra agtergrond (die Proust Questionnaire, wat hulle in Vanity Fair gebruik om ekstra interessante antwoorde te kry!) ...

1. Wat is jou idee van volmaakte geluk?

Ag nee wat, kom nou Linette. Stryk daai vlag.

2. Wat is jou grootste vrees?

Dat ek nie die geloofsgeen gekry het nie. Ek het net een oog. Dat ek die ander een ook verloor. Dat ek ’n road pizza word op die pad tussen Pedi en Oos-Londen.

3. Met watter historiese figuur identifiseer jy die meeste?

Hy’s volslae onbekend en het geleef in die tyd toe niemand nog ’n storie vertel of ’n tekening op ’n grotwand gemaak het nie. Hy’t handeviervoet in die grot se bek gestaan en oor die vlakte uitgekyk, omgedraai na die vleisvreters om die vuur, en gesê: “Eendag was daar …” Hulle’t opgekyk, eers nie verstaan nie, maar moes toe die sprong van blote oorlewing na fantasie maak. Hy’s die oervader van die roman, die film, die mite, die gedig, die rocksong. Sy naam was Kreun. Sy van: Agterspeen. Kreun Agterspeen.

4. Van watter kenmerke in jouself hou jy:

  • die minste
    • My onrustigheid en neiging om gou verveeld te raak.
  • die meeste
    • Die onrustige kreatiwiteit.

5. Waarop gee jy die graagste geld uit?

Grond.

6. Wie of wat is die grootste liefde van jou lewe?

Daar is drie van hulle, en al drie woon onder my dak.

7. Waar en wanneer was jy die gelukkigste?

Op ’n warm Saterdagmiddag in 1975, op my fiets in Noordwal-wes op Stellenbosch, tien oor drie die middag, op pad om vir my meisie te gaan kuier. Ek onthou die moment glashelder. Niks besonders het daartoe aanleiding gegee nie.

8. Watter talent sou jy die graagste wou hê?

Wie sal nie ’n rocksanger wil wees nie?

9. Wat beskou jy as jou grootste prestasie?

Dat ek my worshond Abel net so lief het as hy vir my. En jy weet hoe innig honde bemin.

10. Wat is jou kosbaarste besitting?

Ek beskou my gesin nie in die patriargale sin as my besitting nie. Dan moet dit maar wees: die dae van my lewe.

11. Wat beskou jy as die diepste vlak van ellende?

’n Sondagmiddag in Grahamstad, die dag na die fees, as die donkies die stadjie inkom om die plakkate van die mure af te vreet.

12. Waar sou jy graag wou woon (anders as waar jy nou is)?

As Bill Gates en Stephen Hawkings hul geheime projek afgehandel het en die Microsoft Timetravel Interzone Wizard Mach One klaar is, sal ek graag in New York aan die begin van die twintigste eeu wou lewe, as Italiaanseimmigrant, agtien jaar oud, met hope talent.

13. Wat is jou gunsteling tydverdryf?

Ek verdryf nooit die tyd nie; die tyd verdryf my.

14. Wat stel jy die meeste op prys in jou vriende?

Die jare wat ons saam deur is en dat hulle nog steeds daar is. En as hulle vra: “Sal ons nie maar nog ’n ou knertsie skink nie?”

15. Wie is jou gunsteling skrywers en boeke?

Alle skrywers wat terugskryf teen die tradisie, teen die gevestigdhede en konvensie van hul genre en die verwagtings van hul tyd; terugskryf teen hul vorige boeke; teen hul oeuvre, teen hulself. Enige skrywer wat so terugskrywe interesseer my.

16. Wat is jou leuse?

Ek wens ek kon die komplekse besigheid wat lewe is hup-hup met een ou leusetjie! Die lewe is nie ’n katkisasiekamp nie.

— Interviews —

2010 Etienne van Heerden | Contact: etienne@etiennevanheerden.co.za