home page
News
Biography
Novels
Other Novels
Interviews
Interviews
Photo Gallery
UCT
LitNet
LitNet Akademies
Contact

— interviews —

Dutch poet Alfred Schaffer interviewed Etienne van Heerden
for the July 2007 edition of the Dutch journal Bunker Hill

Alfred Schaffer


Etienne van Heerden

Waar sta jij op dit moment binnen je oeuvre? Hoe vergelijk je In stede van die liefde met je debuut Matoli?

’n Oeuvre is ’n bergreeks. Daar is voetheuwels en hoër berge en soms wil ’n boek waarmee jy besig is, ’n nukkerige, steil krans vorm. Al hierdie dale en steiltes en afgronde vorm jou "landscape of the mind".

Ek werk baie bewustelik aan ’n oeuvre. Ek skep dus nie net ’n nuwe boek nie, maar posisioneer die nuwe teks bewustelik binne my oeuvre. So herskryf jy jouself telkens. ’n Nuwe heuwel kan ’n skaduwee gooi oor ’n vorige bult; elke nuwe uitstulping vervorm die landmassa en relativeer wat voorafgegaan het. Jy berispe jouself, korrigeer. Herstel.

Matoli was in baie opsigte ’n voetheuwel, ’n eerste verkenning. Dit is in 1978 gepubliseer toe ek 25 jaar oud was, ’n nagraadse student in die Regte aan die Universiteit van Stellenbosch. Matoli was ’n jeugroman en die eerste jeugboek in Afrikaans wat rassespanning ondersoek het. Dis uitgegee in die harde jare van Apartheid.

Die ruimte van die verhaal is ’n Oos-Kaapse boerdery. ’n Wit seun besit ’n klein geweertjie, wat tydens ’n magstryd in die hande van sy swart speelmaat, Matoli, beland. Die magsverskuiwing wat jare later in Suid-Afrika sou kom, is dus so voorspel.

Die dokumentêre aard van die boek, asook die spel tussen werklikheid en fiksie, die betrokkenheid van die teks teen die agtergrond van die Oos-Kaapse Karoo en die geskiedenis van daardie streek is iets wat in latere steiltes verder verken sou word: Toorberg bou hierop voort, en ook Die stoetmeester en Kikoejoe. Baie van die hebbelikhede wat in my latere werk aanwesig is, kan jy terugvoer na die eerste klimtog van Matoli. Dit het die eerste kontoere gelê.

Matoli het, soos baie van my boeke, outobiografiese trekke. Matoli was ’n swart speelmaat wat nou iewers naamloos verdwyn het in die werkerslandskap van daardie area. Leef hy nog? Wat het later jare van sy weerbarstige geaardheid geword, toe hy ouer was, gedurende die Struggle-jare toe ek al lank uit die Karoo uit weg was? Het hy teruggesak in die hopelose armoede en beperkte bestaan van ’n plaasarbeider? Het hy ’n versetstryder geword? Ek het hom nooit weer raakgeloop nie, ondanks navrae tydens latere besoeke. Sy gesin het weggetrek, die landskap in.

Ek het nooit werklik van hom gehou nie, en hy nie van my nie. Ons ontmoeting was een van daardie klein verhale waarin die groot Suid-Afrikaanse drama afgespieël is - en dit teen die agtergrond van Olive Schreiner, wie se graf teen Buffelskop bokant die plaas waar ek grootgeword het, lê. Schreiner word ook pertinent in Matoli genoem, en keer terug in van my ander boeke, soos Kikoejoe, In stede van die liefde en Liegfabriek. Dit bly vir my ’n wonder dat ek, in die uitgestrektheid van die Oos-Kaapse Karoo, as kind so onder haar graf opgegroei het tot storieverteller. Op Kranzplaas, een plaas verder af teen die Visrivier, het sy as jongmeisie gesit en skryf aan haar The Story of an African Farm.

Is dit toevallig dat ons albei skrywers is en uit daardie klein kolletjie op die Suid-Afrikaanse landskap kom? Of is dit iets in daardie landskap en sy mense wat stories uit jou laat opstaan? Die plofkrag van historiese prosesse (Boer, Brit, Xhosa, Khoisan), die harde landskap van afsondering en verbete oorlewing, die geheimsinnighede en mites en die magiese aard van dinge?

In stede van die liefde is ’n steilte en ’n nukkerige krans; tussen Matoli en hierdie mees onlangse roman lê bykans drie dekades. Suid-Afrika het vergroei van ’n gemeenskap met stabiele opposisies (wit plaasseun/geweer/mag versus swart werkerskind/kaal hande/onmag) na ’n komplekse samelewing van paradokse. Jonger skrywers sê dikwels aan my dat my skrywersgenerasie gelukkig was – ons kon inskryf teen. Teen onreg. Teen politieke onderdrukking. Teen die vader. Teen patriargie. Hulle leef nou in ’n baie meer vloeiende, losse gemeenskap. Om nou te skryf is om ’n bewegende trein te probeer skilder, soos iemand al iewers opgemerk het. In stede van die liefde wil so ’n gistende, woelige post-Apartheid-samelewing uitbeeld, waar geweld in allerlei vorme steeds deel van die historiese en tydgenootlike vesel vorm.

Soos Matoli werk In stede van die liefde ook met die politiek van die lyf. Dit is begaan oor geweld. Dit is ook besig met prosesse van onthou en vergeet en problematiseer die verhouding tussen wat werklik gebeur het en wat ons in vertellinge aan onsself en ander vestig as ons verbeelde en uitgebeelde verlede. Die skrywer as historiograaf. Dit wil ook kyk na “die ander kant”.

En dit wil ook, in die lig van Olive Schreiner, met prosesse van vertelling, dus met verhale, genesing probeer bring. In Kikoejoe is daar ’n toneel waar die wit plaasseun en sy swart speelmaat die Schreiner-sarkofaag (in die vorm van ’n igloe van klip) bo-op Buffelskop binnekruip en die beendere van Schreiner op ’n groot kruis met draad vasmaak en ophys as ’n soort vlag in die stryd om dinge reg te maak, om te herstel, te genees. Nie net die politieke woelinge van die tyd speel mee nie, maar ook die psigiese onstuimighede van die jong plaasseun se vader. Hierdie “wederopstanding van Olive” is ’n soort persoonlike mitologie vir my.

Waar plaats jij jezelf op dit moment binnen de Afrikaanstalige literatuur?

Die Afrikaanse roman verken altyd interessante veld en bly ’n soort seismograaf van tyd en omgewing. In die jare tagtig en negentig van die vorige eeu het my verkenning van die skrywer as historiograaf deel gevorm van ’n hele korpus skryfwerk van baie Afrikaanse skrywers. Ons het oor die militarisering van die tyd geskryf. Ons het die dokumentêre kortverhaal en roman vanuit die modernistiese ruimte verder geneem na ’n postmodernistiese omgewing, waar die verhouding tussen werklikheid en fiksie meer radikaal geproblematiseer is. Ons wou ’n stelling maak oor geskiedskrywing, oor die aard van die optekening van die verlede. Ons wou teen meesterverhale inskrywe.

Nou beweeg ons ’n nuwe terrein binne, en word die huidige Suid-Afrikaanse ruimte verken. Dit is weer eens ’n groep romansiers wat baie bewus is van hul tyd en omgewing. Die luukse om bloot net storie te maak, bestaan nie. Dit is Afrika; die land bly ontsettend uitputtend.

Waar plaats jij jezelf binnen de Zuid-Afrikaanse literatuur?

Afrikaanse literatuur val gewoonlik buite die gesigsveld wanneer in Engels oor Suid-Afrikaanse literatuur geskryf word. Ek is altyd opnuut verras deur Engelstalige essays, verhandelinge en boeke wat "South African literature" as tema neem en gewoon blind is vir wat baie mense as die sterkste literêre stroom in Afrika beskou, die Afrikaanse literatuur.

Daar is ’n soort ontheemding daar, en die Afrikaanse skrywer moet by wyse van vertaling na Engels en internasionale blootstelling ’n posisie binne die Suid-Afrikaanse kultuurlewe bekom. Almal is dit nie beskore nie. Soos met baie literature word net ’n hand vol skrywers na Engels vertaal. Wanneer jy vertaal is, is dit dikwels ’n moeisame reis van ontheemding na ’n soort ongemaklike stieftuiste. Baie Afrikaanse skrywers probeer nou (ook) in Engels skryf (Brink al die jare; nou onlangs Krog en Muller) ten einde uit die marge na die sentrum van ’n soort Suid-Afrikaanse kultuurruimte te beweeg. Van hulle voel dat Afrikaanse skrywers irrelevant gaan bly as hulle nie hoofstroom toe beweeg nie. Hierdie hoofstroom is Engelstalig.

Dis natuurlik komplekse prosesse, waar terreine jaloers bewaar word, en die verwelkoming wat die Afrikaanse skrywer wat sy pen aan Engels waag, geniet, is nie altyd hartlik nie. Iemand soos Marlene van Niekerk het vanjaar haar jongste roman, Memorandum, tegelykertyd in Afrikaans en in Engelse vertaling uitgegee en dit behoort goed ontvang te word. So raak die grense stadig losser, en dit sal interessant wees om hierdie spel tussen ’n Suid-Afrikaanse Engelse literatuur (verlore aan die suidpunt van Afrika) en ’n sterk, onrustige en hardnekkige Afrikaanse literatuur dop te hou: Watter Afrikaanse skrywers gaan die vaderland van eie taal verlaat ten einde groter erkenning te geniet? Gaan meer frekwente vertaling van Afrikaanse boeke na Engels wyer bekendstelling binne Suid-Afrika en ook internasionaal vir Afrikaanse skrywers meebring? Sal Afrikaanse skrywers hulself so by die kanon "South African Literature" kan inskryf? Gaan ’n "History of South African Literature", geproduseer vanuit ’n universiteit se Engels-departement, uiteindelik ook kyk na NP van Wyk Louw, Eugène Marais en Elsa Joubert?

Die kultuurgrense in ons land is weerbarstig dik. Ons bly, soos ’n karakter in In stede van die liefde iewers dink, toeriste in ons eie land, almal van ons.

Met dit alles gesê, staar ons vanuit ons gekanoniseerde Afrikaanse en Engelse wêrelde uit na die ander Suid-Afrikaanse tale, soos Xhosa, Zulu en Sotho. Daar kom nog nie veel omvattende romans uit swart geledere in hierdie inheemse tale nie. Die bekende swart Suid-Afrikaanse skrywers het, soos elders in Afrika, die taal van die voormalige kolonialiseerder aangeneem. Hulle maak dit weliswaar hul eie, maar mens vra tog of die Suid-Afrikaanse president se ophemeling van die sogenaamde African Renaissance ooit gepaard sal gaan met ’n herlewing van ons inheemse tale, ’n wedersydse erkenning van die kreatiwiteit wat verskuil lê in diversiteit en hibriditeit en die spanninge wat tussen dinge wat verskillend is, kan ontstaan?

Ek self meen dat die posisie van ontheemding en marginalisering sy eie kragte bring. Daar is soveel kreatiewe Afrikaanse energie, en die terugskryf na die sentrum, die wisselwerking met die setel van mag, gaan nóg groter energieë losmaak wat nie altyd negatief sal wees nie.

Die verhaal van my geslag skrywers is die verhaal van mense wat vanuit die marge inskryf teen. Dit sal weer en weer gebeur, want dit is die weerbarstige aard van die kunstenaar, die verset inherent in die maak van enige verhaal. Jy verset jou teen dinge soos dit is, en jy skep nuwe moontlikhede. Jy laat jou keel nie stiltrap nie.

Ek glo ook sterk in die begrip glokalisering. Dit beteken ’n vermenging van die globale en die lokale of plaaslike. Dis ’n moeilike en inspannende proses, kragte wat teen mekaar trek. Maar ten slotte ’n kreatiewe ruimte wat nooit stil is nie. As plaaslike taal moet Afrikaans sy verhouding met globale Engels voortdurend verken en dit nie altyd as iets negatiefs sien nie. Terselfdertyd moet Suid-Afrikaanse Engels sy eie plaaslikheid nie net soek in lokale Engelssprekendheid nie, maar ook in die ruimtes van ander Suid-Afrikaanse tale, soos Afrikaans en Xhosa.

Dis hierdie soort pynlike prosesse waaraan Nederland ook al meer bloot sal staan soos wat multikulturaliteit en die implikasies daarvan in Nederland duidelik word.

Hoe sta je tegenover literaire prijzen? In hoeverre heeft de erkenning die je hebt gekregen, bijdragen aan het schrijfplezier?

Skryfplesier is vir my geen term waarmee ek my kan assosieer nie. Ek het ook nooit as jong skrywer die "first careless rapture" gehad nie. Ek beny skrywers wat tydens ’n boek se verskyning teenoor joernaliste verklaar dat die skryf van die boek ’n heerlike avontuur was. Vir my is skryf ’n baie moeilike proses, ’n soort patologie. Ek formuleer maklik, maar die psigiese prosesse wat met skryf gepaard gaan, is vir my baie moeilik. En dit raak met elke boek moeiliker. ’n Mens sou ’n makliker weg kon inslaan, natuurlik, en van skryf ’n soort lekker tydverdryf maak. Maar dit sou in my geval tot dun verhaaltjies lei. Ook die pendeltog tussen die daaglikse pligte van ’n werkende mens en die private storiewêreld wat op my lessenaar aan ’t ontwikkel is, raak vir my meer inspannend. Dis nie meer so maklik soos voorheen om te beweeg tussen my roman-manuskrip en ’n vergadering oor begrotings nie.

’n Prys word deur ’n komitee toegeken. Ek is hierdie handjie vol mense wat so ’n verantwoordelike besluit moes neem, altyd dankbaar vir hul besluit. ’n Ander komitee sou dalk anders besluit het!

Is het mogelijk voor een Zuid-Afrikaanse schrijver te leven van zijn of haar schrijfwerk?

Jy moet leef om te skryf, maar om van skryf te leef, sal moeilik wees. Dit sal jou bestaan erg beperk. Jy sal in ’n karavaan moet lewe. Jy sal nie kan reis nie. Minimum internet. Afhanklik van die swak of niebestaande openbarevervoerstelsels in Suid-Afrika. Toegewys, op jou oudag, aan ineenstortende openbaregesondheidsdienste, vuil hospitale en lui verpleegpersoneel. Vermy die kry van kinders; dis duur. Ek meen jou wêreld sal baie klein moet wees as jy brood op die tafel wil hou. Baie van die dinge wat ’n skrywer soos ek stimuleer, sal nie binne jou bereik wees nie. Vir sommige soorte skrywers sal dit kan werk, maar ek het konstante en diverse invalle nodig: reis, boeke, musiek. Beweging, uitdaging en ongemak. Ook ’n gesin. Dit kom nie goedkoop nie.

Je werk wordt dikwijls "magisch realistisch" genoemd, misschien bij een gebrek aan houvast? Kan jij iets met die term? Vinden lezers jouw werk moeilijk te plaatsen?

Wat mense buite Suid-Afrika magies-realisties noem, is vir baie mense in Suid-Afrika ’n gewone verskynsel; ’n werklikheid. Ek kom van ’n boerdery waar stories ontspring uit mites en gebeure en mondelinge oorlewering. Jy kry dit by baie vertellers uit die Karoo. Dis ’n landskap van stories waar die onmoontlike met die grootste gemak moontlik is. Ek het my eerste verhale onder meer by swart plaasarbeiders aangehoor. In baie van my romans verken ek hierdie vlugte van die verbeelding. Dis ’n manier van kyk na landskap en mense wat tipies Suid-Afrikaans is; verhale beef soos hittegolwe bo ’n landskap wat vir besoekers dalk leeg, bar en haweloos mag lyk. Die term magies-realisties is dus ’n term wat ’n blik van buite meebring op iets wat vir my normaal is. Ek kom nie uit ’n vroom, suinige en gestroopte Calvinistiese agtergrond nie. Waar ek vandaan kom, wemel dit van eksentrisiteit en spekskiet, van drome en koors, van nagmerries en vrese bewaarheid.

Dit gaan ook verder. My generasie het ingeskryf teen die gekanoniseerde Apartheidsgeskiedenis wat aan ons gevoer is op skool en in die media van die tyd – só het Suid-Afrika tot stand gekom en só is dinge nou. Die staat wat sy meesterverhaal propagandeer na sy burgers. Ons moes bewustelik inskryf teen hierdie opvattinge. Met ons verhale moes ons ondergrawe en alternatiewe kleingeskiedenisse opdiep. Die skrywer as alternatiewe historiograaf, as "contra-historian", soos een teoretikus dit noem.

In so ’n situasie is die magiese vertelmodus ook ’n manier om by wyse van vertelling die stabiele gekanoniseerde wyshede eensklaps te ondermyn met die heerlike skepping van alternatiewe moontlikhede. Jy vorm nuwe wêrelde wat ver verwyder is van die “erkende waarheid”. Tog verwerf hulle ’n soort opwindende waarheid van hul eie.

Dit is dan die opwindende, ondermynende aard van storie en die politieke rol van die magiese realisme.

Hoe ben jij begonnen met schrijven? Wat waren of zijn jouw inspiratiebronnen? Word je nog beïnvloed door andere schrijvers, of is die tijd voorbij?

Skryf het nie vir my telkens ’n “begin” nie. My skrywery het een begin, en dis die dood van my vader in 1969, toe ek 14 jaar oud was. Met sy dood het my bekende wêreld ook gesterf, want ons moes die boerdery verlaat en ek is eensklaps afgesny van my grootwordwêreld in die Karoo. My moeder het na Stellenbosch digby Kaapstad verhuis, om digby haar familie hier te wees. Dit het beteken dat ek opgeneem is in my Engelstalige familie aan moederskant. My moeder het ook weer getrou, terwyl ek nog in die huis was, met ’n heerlik eksentrieke Walliese Kwaker (Quaker) wat op sy dag die eerste gewetensbeswaarde in Nieu-Seeland was tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Om die plaaswêreld van die Karoo met sy mites te verruil vir die Stellenbosch van daardie jare was ’n groot waterskeiding vir my. Om my verliese te verwerk het ek begin skryf. Dit was die vonk. Dit is dalk daarom dat skryf vir my nooit setel in plesier nie - dit bly in die buurt van die verwerking van verlies, die aanvul van onsekerheid, die verset teen.

Weens spanninge tussen my moeder en my vader se kant van die familie (my vader was tesame met sy broer mede-eienaar van die familieplaas wat meer as 200 jaar in die besit van direkte manlike afstammelinge was en die boedel moes verdeel word) het ons selde terug Karoo toe gegaan. Ek het ’n hele familiegeskiedenis verloor, wat gekompliseer is deur die toenemend regse politieke sentimente van my neef, wat later eienaar van die familieplaas geword het.

Ek het die Karoo vermy, maar dit in my skryfwerk begin opsoek. Dit het ’n hermeties afgeslote ruimte geword, ’n mitologiese "landscape of the mind" wat ek in boek na boek besoek het. Afgelope Desember het ek die Karoo weer besoek. Vir die eerste keer kon ek vry asemhaal. Dit het my gees oopgeskiet. Ek het dit herwin as my eie. Dit het veertig jaar geneem.

Je hebt een brede belangstelling, zo stond je aan de wieg van het succesvolle culturele internetmagazine LitNet (www.litnet.co.za), dat door de jaren is uitgegroeid tot een belangrijk, serieus forum voor Zuid-Afrikanen van allerlei komaf. Je bent hoofdredacteur van dit blad, en tevens werkzaam hoogleraar aan de vakgroep Southern African Languages aan de Universiteit van Kaapstad. Daar hou je je bezig met Literary Theory, Media Studies en Zuid-Afrikaanse en Nederlandse Literatuur. Ook doceer je Creative Writing en Internet and Web Theory. Is het schrijven een manier voor jou om tot rust te komen van alle hectiek? Moet jij je opladen voor aanvang van een nieuwe roman, je bewust afsluiten van de wereld?

Om ’n roman so dik soos In stede van die liefde te skrywe is helaas nie om tot rus te kom nie. Dis geen plekkie in die skaduwee nie. Dis ’n moeilike tog onder die harde son. Ek moet gedissiplineerd werk en my nie veel verwen aan skinder, "corridor politics" by die universiteit, televisie of middagslapies nie. Dis ’n moeilike persoonlikheid om mee om te gaan, om so onrustig te wees, moeilik tot kalme bedaring te kom en altyd maar ’n nuwe uitdaging te wil aanpak. Maar die geheim, lyk my, is die kookpot-teorie. Ek gaan deur my daaglikse pligte by die universiteit en LitNet en rondom my skryfloopbaan en gesinslewe (my vrou is huisarts en ons verdeel al die jare verpligtinge rondom die twee dogters) en hou die deksel styf op die pot. Onder die deksel prut en stoom dit, en wanneer die universiteit in reses gaan, of Saterdae en Sondae in my skryfhuis in ons erf se agterplaas, lig ek die pot se deksel en kom stoomdruk en allerlei heerlike geure vinnig na buite. Dis dan my skryftyd. Dit beteken dat ek nie ’n rustige lewe het nie, maar ek sal wel in die graf rus, ek beloof. Na my viervoudige hartomleiding ’n klompie jare gelede het ons ’n erf agter ons huis aangekoop en daar ’n skryfhuisie gebou. Ek noem dit “Hiernamaals”. Geen selfoon gaan daar in nie. Geen besoekers nie. Ek kan my daar afsonder.

Naar aanleiding van LitNet kwam je met het idee om het boek Die omstrede God. Speelt God ook een gesublimeerde rol binnen jouw werk, wellicht in de rol die intuïtie heeft in jouw oeuvre?

A, God! ’n God wat meer as ’n debatspunt is. ’n God wat meer is as die dynserigheid van die Kamdeboo as jy bo-op Toorberg staan. Waar kry jy so ’n God? Definitief nie in ’n boek soos Die omstrede God nie. Dit was bloot ’n samevatting van ’n verrassende uitstorting van energie deur LitNet se derduisende lesers, wat altyd maar oor iets stry. Afrikaanse mense is kwessiegedrewe, en altyd aan ’t debatteer. Dis deel van die energie wat ons dryf. Kan jy God nader met dié soort energie?

Je hebt een boek met verzamelde columns uitgebracht (Die stilte na die boek), je gaf het schrijversdebat dat op LitNet plaatsvond uit, onder de titel Briewe deur die lug. Is het belangrijk om jouw visie op wereldse zaken te geven, en zou je zeggen dat maatschappijkritiek het schrijven aanwakkert, of zijn het twee geheel van elkaar afgescheiden zaken? Hoe belangrijk is het debat?

Omdat ek uit ’n bepaalde tyd in Suid-Afrika kom, kan ek helaas nie blind wees vir wat om my aangaan nie. My skryfwerk is ook ’n toetrede tot die openbare gesprek. My daaglikse betrokkenheid by LitNet (wat ek juis opgerig het om die plek in te neem van die ondermynende "little magazines" van die jare tagtig en ook die ouer literêre tydskrifte in Suid-Afrika wat uitgesterf het) beteken ook dat ek altyd maar bewus gehou word van die aktualiteit. Ons plaas tussen 80 en 100 nuwe tekste per dag en LitNet het ongeveer 34 000 lesers ("unique users"), wat dikwels tot 930 000 bladsye ("page impressions") per maand aflaai. Met so ’n gistende, onstuimige virtuele gemeenskap onder jou vleuel kan jy kwalik immuun bly teen die aktuele werklikheid. Die kritiese geeste wat tot LitNet bydra, hou my daagliks aan die dink.

In jouw oeuvre zijn veel romans te vinden die wijzen op een poging tot een genuanceerd engagement, zoals in Om te awol, My kubaan en Casspirs en Campari’s. Is een schrijver een onderzoeker van de wereld, de geschiedenis, of een onderzoeker van zijn eigen onderbewuste? Hééft de schrijver wel een taak?

In my nuwe roman, Asbesmiddag, gaan ek hierop in. Het die skrywer ’n taak of is sy enigste taak, soos Marquez gesê het, om goed te skryf? Kan ’n skrywer wat in die afgelope vyftig jaar van Suid-Afrika se geskiedenis goeie verhale geskryf het waarin nie een verwysing is na rassespanning, onderdrukking, Apartheid of kriminaliteit nie, homself verweer? Was hy dan totaal gedissosieerd van sy tyd en plek? Terselfdertyd: het agitprop en klem op betrokke ("engaged") skryf nie ook gelei tot van die eensydigste, swakste literatuurprodukte in ons land nie?

Dis vrae wat waarskynlik eerder beantwoord word vanuit ’n spesifieke skrywer se persoonlikheid as vanuit ’n leerstuk van plig.

In my eie werk het ek my sedert my debuut, Matoli, besig gehou met die probleme van my tyd. My agtergrond is reeds ’n paradoks, met ’n Afrikaanse vader (van Nederlandse en Franse afkoms) wat geen diaken of dominee op sy plaas wou duld nie en in die jare sestig vir depressie met LSD behandel is. Ons woonplaas was ook eens ’n vakansieplaas voordat ons dit gekoop het om daar merinoramme te begin teel en daar was iets karnavalesk aan die ruimte: groot stoetramme in rondawels wat eens vakansiegangers gehuisves het. My moeder was Engels, eksentriek, hoegenaamd nie konvensioneel nie. Sy het uit ’n lyn interessante vroue gekom – die Girds van St Helena. Ek het buite die tipiese strukture van daardie tyd grootgeword. Toe ek met my vrou, wat Duits en Katoliek is, op trou staan, wou ’n dominee van die Nederduitse Gereformeerde Kerk dit verhoed omdat sy Katoliek was.

Dit is alles dinge wat jou opskerp, op heel persoonlike vlak, vir mag, vir verskille, vir prosesse.

Ek sou graag op ’n keer ’n onbevange verhaal wou skryf, ’n storie wat ontdaan is van alle politieke spanninge, los van die verkenning van mag, vry van die las van die hede en die verlede. Maar ek dink nie dat so ’n verhaal uit ons land en uit ons tyd uit my pen kan voortkom nie. Nie met my as buikspreker nie.

In je begintijd schreef je ook gedichten. Wat is voor jouw het verschil tussen poëzie en proza? Zou je je kunnen voorstellen dat je ooit nog een dichtbundel zou maken?

Die poësie is die genre van die gode. Dit vereis ’n stiptelikheid en ’n wrede verwringing van taal. ’n Vergrootglas in die hand wat die voetspoortjies van ’n mier kan navolg en in die sagte tred van die insek die geluide van olifantpote kan hoor. Ek dink nie ek het dit nie. Ek meen dat poësie eerstens en laastens ’n geding – ’n stryd - met taal is. Vir my is die roman, daarenteen, ’n geding met storie en struktuur. Ek is meer van ’n argitek as ’n klipsnyer.

Is het Afrikaans in de Zuid-Afrikaanse maatschappij en de Zuid-Afrikaanse kunst ten dode opgeschreven? Schrijf jij in een taal die binnenkort is uitgestorven?

Taal is vir my ’n viool. Dit help nie jy speel net lekker volkse deuntjies op ’n viool nie. Dus help dit nie om te sê Afrikaans sal oorlewe in die strate en huise nie. ’n Viool is ’n gevorderde instrument wat uiting kan gee aan ’n groot repertoire: van die mees eenvoudige, volkse liedjie tot die mees verwikkelde simfonie. So moet dit ook met taal wees. Dit is ons verantwoordelikheid om ’n spesifieke taal (Afrikaans, Xhosa, Sotho, ens) so te ontwikkel dat die mees komplekse dinge daarop uitgespeel kan word: Afrikaans is en moet bly die taal van die kernfisika, die filosofie, die regsgeleerdheid, die interne geneeskunde, die botanie en die aandelebeurs. Daarom moet ons sorg dat die hoëre én laere funksies van Afrikaans uitgebou bly. Afrikaans sal nie uitsterf nie, maar die vraag is: Watter kwaliteit lewe gaan hy kan behou binne ’n Suid-Afrikaanse omgewing waar die staat klaarblyklik Engels stoot as die enigste taal van hoëre funksies? En wat vir Afrikaans geld, geld ook vir die ander Suid-Afrikaanse tale. Ook wat die literatuur betref, moet Afrikaans breedte en diepte en sofistikasie behou.

Over recensies heb je niets te klagen. Ook je laatste roman, In stede van die liefde, is lovend ontvangen. De Afrikaanse krant Die Burger vond de roman zeer aangrijpend, Beeld vond dat de beste elementen uit je vorige romans allemaal verenigd zijn in dit laatste werk. Zou je deze roman als je magnum opus zien, of denk jij niet in dit soort termen? Waar ligt jouw uitdaging nog?

My uitdaging lê daarin om ’n beter roman te skryf. Elke roman is ’n poging om die ideale roman te probeer kerf uit ’n bepaalde gegewe. Skryf is ’n proses van keuses, maar dikwels voel jy jou soos die Chinese reisiger wat dié advies kry: "When you get to a fork in die road, take it." In stede van die liefde kon, as ek ’n ander reeks keuses gemaak het, ’n heel ander roman gewees het. Trouens, sy vorige gedaantes lê in my liasseerkabinet. Ek het een variant gepubliseer. Dit alles impliseer dat ’n mens nie in terme van die afgehandelde dinge kan dink nie. Jy is in ’n proses gevange, en die groot dryfkrag in die proses is die soeke na, nes Gerrit Achterberg met sy gedigte, die volmaakte vorm. Achterberg se najaag van die ontwykende u-figuur, sy hardnekkige skryf van gedig na gedig, was ’n rooftog in die niet – ’n altyd onvolmaakte poging om die volmaakte taalgestalte vas te vang.

Zie je een verschil in de wijze hoe jouw werk wordt gelezen en geduid in Zuid-Afrika, en hier, in Nederland?

Binne Suid-Afrika het ek verskillende leserspublieke. Die Afrikaanse lesers van my generasie en ouer lees met ’n bepaalde repertoire. Hulle kom met ’n voorwete na my boeke. Die geheue is daar. Dan is daar Afrikaanse lesers van ’n jonger generasie. Van hulle is kinders uit die post-Apartheidera. Hulle het na “die wending” hul verstand gekry. Dis twee wêrelde. Hierdie jong Afrikaanse lesers draai ’n heel ander gesig na my. Daarby kom die tradisionele wit Engelstalige Suid-Afrikaanse lesers - dis ’n heel ander gemeenskap wat uit ’n heel ander konteks na my boeke kom. Less rooted. Minder dermuitryg.

Ons hoop almal dat die swart leserspubliek in Suid-Afrika sal bly groei. Hulle lees óók natuurlik uit ’n héél ander perspektief.

Uiteraard lees Nederlanders my boeke dan nou weer op hulle manier. Miskien is hulle te geneig om te vereksotiseer as dit kom by boeke uit die buiteland.

Elkeen van hierdie lesersgemeenskappe resepteer die boek op ’n eie manier. Dit hou ’n skrywer verras. Jare gelede, toe ek nog kabarette opgevoer het, het die teater my verras omdat elke aand ’n gehoor gehad het met ’n kollektiewe persoonlikheid wat heeltemal ánders was as die gehore van die vorige aande. Dit was soos ’n enkele nuwe mens wat daar sit. So is dit ook as jou boeke na ander gemeenskappe, generasies en lande reis.

Er loopt door jouw hele oeuvre een scherpe lijn tussen het snelle, stedelijke, zakelijke, vluchtige leven aan de ene kant, en het mysterie dat de mensen bindt en de verstilling van het platteland, het ongerijmde van de natuur en de invloed die dat op ons heeft aan de andere kant. Heb jij een keuze gemaakt tussen het snelle leven en de teruggetrokken ziel, of zie jij deze elementen niet als tegenstrijdig? En hoe voorkom je dat door deze tweedeling je werk in clichés vervalt?

As teruggetrokke siel lewe ek ’n snelle lewe. En teen die cliché – ook my eie – sal ek telkens moet inskrywe!

Onmiskenbaar zitten er behoorlijk wat elementen in In stede van die liefde die de lezer autobiografisch zou kunnen duiden. Wat is voor jouw de rol van het privé-eigendom binnen een oeuvre? Voel jij dat je jezelf op een of andere wijze blootgeeft in jouw werk?

Ek is nog te jonk vir ’n outobiografie.

Sommige van my boeke put uit omgewings of ervarings wat aan my bekend is, maar ons leef darem in ’n post-postmoderne era en is deeglik bewus van hoe die subjek – enige skrywer – homself inskryf teen bestaande tekste, sy eie ervaringe, herinneringe en drome en nagmerries. Die gevolg is ’n problematisering van geheue en ’n huldiging van storie. Met storie skep jy ’n nuwe waarheid wat reëls en wetmatighede van sy eie het. Daardie nuwe ruimte stry en stoei lekker met die ander ruimtes – waarvan die werklike lewe en verlede maar een is.

Skryf beteken risiko’s neem. Jy neem wat jy ken en verbeel dit veel verder. Anders verval jy in saaiheid. Jy moet ook risiko’s met jou eie lewe aangaan. Belaster jouself gerus.

Wat ek wel weet, is dat jy nog dink dat jy jou boeke skrywe, maar op ’n stadium besef jy: jou boeke het jou geskryf.

Onthou ook: die dronk matroos skryf nie die matrooslied nie.

Die beste raad is: ontken niks.

— Interviews —

2010 Etienne van Heerden | Contact: etienne@etiennevanheerden.co.za