Klik hier om die LitNet-KlasKamer te besoek.
’n Rebel, ’n digter, ’n kunssinnige, ’n boer, ’n bevrydingsprediker, ’n ma, ’n kêns dogter op daggatee, ’n magistraat, ’n “Slams” met ’n derde oog wat verborge waarhede sien en glo kan toor, ’n waterwyser, ’n denker, ’n koevert, ’n posmeester en nog ’n paar hande vol geeste … dis ’n misdaadverhaal, dis ’n suspensdrama en ’n plaasroman - alles in een.
Toorberg, Etienne van Heerden se wyd bekroonde roman, verwerk vir die verhoog.
Regie: Juanita Swanpoel
Ontwerp: Marthinus Basson
Teks: Malan Steyn
Beligting: Albert Snyman
Met June van Merch, Johann Nel, Fahruq Valley Omar en Morné Visser
Aangebied deur Kunstekaap Teater
11 - 24 Mei 2005
10:00 - slegs vir skole
R25
Saterdae 14 en 21 Mei 2005
11:00 - vir publiek
R50
Klik op foto vir groter weergawe en volledige onderskrif!
Francois Toerien het ’n paar vrae oor Toorberg en skrywerskap aan Etienne van Heerden gestel:
Oor roman wat verhoogdrama word:
As romanskrywer sit ek my handpalm op ’n karakter se agterkop en stoot hom of haar voor my uit. StamAbel as bewegende videokamera. Ella en die Magistraat as kameras. Ek rapporteer in prosavorm wat hulle sien, sê en dink. Die storie groei, want die karakters kry hul loop, hul staan, hul sit, hul sê. ’n Eie lewe. Ek is net skriba. Die resultaat is ’n roman. Ek sien nou ook ’n regisseur inskuif agter die karakters en hulle op ’n verhoog rondstoot. Die verhoog as groot, oop bladsy. Hoe groot is die sprong van roman na toneel? Miskien nie so groot as wat vrees jou laat vermoed nie!
Koerantnaam?
Toorberg, die berg, is op die Van Heerden-familieplaas Doornbosch geleë, op die grens tussen Graaff-Reinet en Murraysburg en op die rand van die Kamdebo. Die omgewing word die Sneeuberge genoem, want in die winter lê dit wit van die kapok. As koeranttitel: Die Sneeuberger.
Waarom skryf jy?
Mens skryf omdat dit vir jou gegee is nes eet en slaap en dink. Dis vir my ononderhandelbaar deel van my biologiese ritmes. Ek dink ook dit lê op die vlak van patologie; daaroor moet mens nie doekies omdraai nie. Dit moet gebeur. Dis ’n noodwendigheid wat deel vorm van die komplekse samehang dinge wat talent vorm. Die vermoë om goed te skryf, is maar net die begin van skryftalent. Daarby moet ook kom die diktaat van die onderbewuste: dit moet uit. Lawa. Boorwater. Nagmerries. Sogenaamde inspirasie. Verliefdheid op jou karakters, ook die booswigte onder hulle. Hulle bevolk jou lewe nes regte vlees-en-bloed-mense om jou. Jy kan jouself nie daarteen verweer nie. Boonop skryf ek romans omdat dit so ’n hels uitdagende genre is. So ’n ontglippende, onmoontlike medium. Jy probeer weer en weer die genre onder die knie kry; op die rug van die tier bly. Hoe sal ek ooit die volmaakte roman skryf? Nooit nie. Dit bestaan nie. Maar dit wink.
Jy was eers prokureur?
Ek het na ’n LLB op Stellenbosch my leerklerkskap afgelê en prokureur geword. Ook het ek in daardie tyd as – wag maar vir die lang titel – assistant-adjunk-Balju in die Bellville-landdrosdistrik opgetree. Beslag gelê op perdekarre en skedonke, egskeidingsdagvaardings afgelewer, rondgejaag in agterstrate, huise se inhoud noukeurig opgeskryf en aan derduisende voordeure van Bishop Lavis tot Welgemoed geklop. “Reality is outdoing our talents ...” Ek was in daardie tyd ook dosent in Regspraktyk aan die Skiereilandse Technikon. In die landdroshof was ek nie soseer geïnteresseerd in hoe ver die aanvaller met sy mes van die slagoffer gestaan het of wat sy presiese woorde was nie – ek wou eerder weet: hoe’t dit gevóél toe die mes by die slagoffer insak? Natuurlik ’n effe verkeerde benadering ... die romanskrywer eerder as die regsgeleerde. Daarna is ek reklamewese toe vir woeste, kreatiewe jare in die Kaapse middestad en toe oplaas, toe ek dertig word, het ek by die Universiteit van Zoeloeland my akademiese loopbaan begin en Toorberg daar in Empangeni, ver van die Karoo, geskryf.
Outobiografiese elemente in die boek?
O, aarde. Die plaas waarop Toorberg staan, is die Oos-Kaapse plaas wat die langste in die besit van een familie is. Die Van Heerdens het in 1786 daar afgesaal. In ’n direkte lyn is ek die eerste geslag wat nie boer nie; met my pa se dood in 1969 is die vennootskap verbreek en het ons na Stellenbosch verhuis. Dis spookgrond wat wemel van mites. Die boek is dus familiegeskiedenis, maar daar’s erg bygelieg en spekgeskiet. Mites waarmee ek grootgeword het. Oom Soois wat in die keel geskiet is toe hy oor die kraalmuur vir die Tommies loer. Die eerste opstal op die plaas wat deur Boesmans met vuurpyle afgebrand is. ’n Tante wat as kind daggatee gekry het om haar te kalmeer. Die Riet-familie wat altyd vertel het dat James Read, die sendeling, hul voorsaat was. My pa se storie van die seuntjie in die boorgat en sy pa wat hom die genadedood moes gee. Die ou toordokter van my jeug aan wie ek vetplante uit my rotstuin gegee het in ruil vir messakke en gordels wat hy vir my uit ou skoenleer gemaak het. Die oergeheue van daardie berg en die rietbos; die naamlose klipgrafte; die porseleinskerwe en die hartseer van jare.
Magistraat van der Ligt:
Toe ek in die Bellville-landdroshof moes optree, het ek dikwels voor ’n gawe landdros verskyn. Hy had net een arm. Sy een hand se naels was lank, want hy had niemand, skynbaar, om hulle te knip nie. Toe ek ná Toorberg se verskyning ’n televisiespan wat ’n dokumentêr oor die boek aan die maak was, na die Bellville-landdroshof neem en hier kom die afarm-magistraat om die draai in die gang, het die kameraspan hulle asvaal geskrik.
Leerders se reaksie:
My dogters word deur jong manne bygeloop oor die pa wat hierdie moeilike voorgeskrewe boek geskryf het! Twee van hulle moes self in matriek Toorberg behandel. Ek gesels ’n keer of wat ’n jaar met skoolgroepe oor die boek en reaksies is altyd interessant. Te moeilik? Nonsens.
Hooftema?
My geslag skrywers was in die jare tagtig van die vorige eeu vies vir die vals propaganda in koerante en oor die regeringsgesteunde radio en televisie, wat nie altyd dinge gerapporteer het soos ons dit beleef het nie. Ons het daarom as dokumenteerders, as “new journalists”, probeer optree in daardie onrustige tye voor Mandela se vrylating. Ook was ons ontevrede met die geskiedskrywing wat ons veral in skoolhandboeke aangetref het, en het ons probeer om in die verlede te gaan delf om te kyk wat regtig gebeur het. Die skrywer het dus ’n dokumenteerder van sy tyd geword, en ’n alternatiewe historiograaf. Ons was baie bewus van hoedat mag alle skryfwerk – joernalistieke of geskiedkundige tekste ingesluit – onderlê. Wie die hede besit, beheer die verlede, is eenkeer gesê. Die verlede is onvoorspelaar, afhangende van wie wanneer terugkyk. Mag en besitterskap van die verlede is belangrik. Daarom was ons selfbewuste historiograwe. Toorberg was dus so ’n poging om ’n metahistoriese roman te skryf. Die hooftema is die selfbewuste terugkyk na die verlede en ’n groot bewustheid van en skeptisisme oor die mens se pogings om die verlede te agterhaal. Mens noem hierdie soort skryfwerk historiografiese metafiksie.
Die aarde as hoofrol?
Soms dink ek dat landskap die hoofkarakter in my romans is. En in Toorberg is landskap – die aarde – en die mens se verhouding tot die aarde baie belangrik. Dit gaan natuurlik veral oor die groot tema wat hierdie land nog lank sal ry, en dis die probleem van grondbesit. In Toorberg gaan dit oor die uitmeet van ’n stuk grond deur die stamvader en die patriargale bóér van daardie grond en die mense wat daarop woon. En die opstand daarteen. Mag en besitterskap van grond is dus belangrik. Hoe ons net op een boud op hierdie stuk aarde sit, ongerus soos kiewiete.
Nuwe roman binnekort?
Daar is ’n roman op pad, ja. Die brood is nog so effe in die oond, en dis nie nou die tyd om daaroor te praat nie …